Yvonne
Bevriend, Bemind,
Vir Altyd Verbind.
Ons Storie
Hoe twee paaie een geword het — en ’n liefde begin blom het.


In die begin was daar net vriendskap. ’n Jaar van bevriend wees, gevolg deur ’n jaar van elk ons eie paaie loop. Tog het daardie tyd, eerder as afstand, die grond voorberei vir alles wat sou volg. ’n Onverwagse ontmoeting by ’n gemeenskaplike vriendin se troue het weer alles in beweging gesit, asof die verhaal eenvoudig op die regte plek hervat is.
Met almal om ons wat, in die tyd ná daardie troue, die vonke sien spat het, het dit ons ’n rukkie geneem om die “net vriende” af te skud. Wat gevolg het, was nie haastigheid nie, maar oorweging. Ná ’n hoogs logiese gesprek oor ons toekoms het daar ’n rustige besef ingetree: dit is vir altyd.
Tyd het sy werk gedoen. Na twee en ’n half jaar saam het alles in plek geval en sien ons uit na ons troudag. Op 14 Junie 2025 het Tiaan die vraag gevra, en die oomblik het meer gesê as woorde. ’n Verlowing vol betekenis, en die mooiste moontlike verjaardaggeskenk, tussen ons twee verjaarsdae wat net dae van mekaar val.
Nou word daar uitgesien na ’n troudag wat warm, sorgvry en opreg sal wees. ’n Dag om te deel met die mense vir wie ons lief is. ’n Viering van waar alles begin het, waar ons nou is, en alles wat nog wag.
Meer Inligting
Hier vind julle die besonderhede van ons spesiale dag — alles wat julle moet weet om saam met ons hierdie hoofstuk te vier.
Het julle vrae?
Met ’n naweek-viering kom daar altyd ’n paar praktiese vrae. Hopelik beantwoord hierdie inligting alles wat jy moet weet om die naweek sorgvry saam met ons te geniet.
Wanneer vind die troue plaas?
Die troue vind plaas op 2 Mei 2026. Dit is ’n naweek-viering, en aangesien die Vrydag ’n openbare vakansiedag is, nooi ons julle om die hele naweek saam met ons te geniet.
Waar is die venue?
Die troue word gehou by Mellow Stream Wedding Venue, in Roossenekal. Die venue is ongeveer 2 uur en 30 minute buite Pretoria, en sowat 40 km vanaf Dullstroom. Volg asb hierdie skakel vir aanwysings.
Hoe lyk die naweekprogram?
Gaste wat op die venue oornag, is welkom om Vrydag saam met ons te kuier tydens ’n ontspanne bring-en-braai. Bykosse sal voorsien word. Die seremonie en onthaal vind Saterdag plaas. Sien asseblief die trou-tydlyn hieronder vir volledige besonderhede.
Is daar nog verblyf op die perseel beskikbaar?
Verblyf op die perseel is tans vol bespreek (buiten kamp plekke), kontak die bruid vir meer inligting. Daar is egter verskeie ander gastehuise en verblyfopsies in die omgewing wat gekontak kan word vir inligting en besprekings. Klik hier vir meer inligting.
Sal daar vervoer gereël word?
Afhangend van belangstelling, beoog ons om ’n tipe pendeldiens te reël om gaste veilig tussen die venue en omliggende verblyf te vervoer. Ons wil graag seker maak dat almal die aand sorgvry kan geniet en veilig by hul verblyf aankom — selfs ná ons 'n glasie of twee klink. Dui dit asb aan wanneer u RSVP as u sou belangstel.
Watter kos sal voorsien word?
Vir gaste wat op die venue oorbly:
Vrydag | Bring-en-braai
Bykosse word voorsien. Bring eie vleisie en drinkgoed.
Saterdag oggend | Ontbyt
Ontbyt by die Lodge.
Saterdag ±16:00 | Canapés
Happies ná die seremonie.
Kontant Kroeg
Saterdag ±19:00 | Onthaal-ete
Volledige onthaalmaaltyd.
Kontant Kroeg
Saterdagaand | Middernag-happies
Happies langs die vuur by die Boma.
Sondagoggend | Ontbyt
Ontbyt in die onthaalsaal.
* Gaste word aangeraai om ’n ligte middagete-snack voor die seremonie in te pak.
* Gaste wat nie op die venue bly nie en by die braai of ontbyt wil aansluit, kan die bruid kontak.
Is kinders welkom?
Ja, beslis. Daar is min dinge wat meer vreugde bring as kinders se lag op ’n vieringsdag, en ons sien uit daarna om dié spesiale oomblik met hulle ook te deel.
Daar sal ’n paar aktiwiteite wees om die kleingoed besig te hou, maar bring gerus hulle gunsteling speelding saam.
Wat is die dragskode?
Die dragskode is semi-formeel. Daar is geen spesifieke kleurskema vir gaste nie. Indien jy graag subtiel by die foto’s wil inpas, kan jy oorweeg om swart of wit te dra.
En uiteraard — geen wit rokke nie 🤍
Wat van geskenke?
Ons begin hierdie nuwe seisoen reeds goed toegerus, met twee huise wat saamgesmelt word in een. Daarom sal ’n geldjie vir ons toekoms saam baie waardeer word.
Maar bo alles bly julle teenwoordigheid die grootste en kosbaarste geskenk.
Capitec
1147951851
470010
Miss YL Venter
%D Dae
%H Ure
%M Minute
%S Sekondes
Trou-tydlyn
LW: Die onderstaande tydlyn geld vir gaste wat op die venue oorbly. Indien jy by alternatiewe verblyf tuisgaan en graag by sekere aktiwiteite wil aansluit, kontak gerus vir Yvonne om reëlings te tref.
Inboek & Aankom
| Vrydag |
Gaste wat die volle naweek saam met ons op die venue deurbring, kan vanaf die middag inboek. Tyd om tasse neer te sit, asem te haal en die platteland se stilte in te drink.
Bring & Braai
| Vrydag Aand |
’n Informele kuier om die naweek saam af te skop. Bring jou eie dop en chop en kom geniet ’n ontspanne braai saam met ons. Bykosse sal deur die venue voorsien word.
Ontbyt op die Perseel
| Saterdag Oggend |
’n Rustige begin voor die groot oomblik. Ontbyt sal beskikbaar wees vir gaste wat op die perseel bly. Ons beveel aan dat gaste ’n happie saambring vir middagete voor die seremonie begin.
Seremonie, Canapés & Onthaal
| Saterdag |
Die 'ja'-woord seremonie sal om 15:00 plaasvind by die rivier kapel. Daarna volg canapés, vieringe en ’n onthaal waar ons saam eet, lag en die begin van ons huwelik vier.
Partytjie Tyd
| Saterdag Aand |
Dans en feesvier in die onthaalsaal en kroeg tot 02:00. Daarna skuif die kuier na die boma toe vir middernag-happies en gesels tot sonsopkoms.
Ontbyt & Vertrek
| Sondag Oggend |
'n Laaste ietsie om te eet, 'n paar stadige groete, en dan vertrek ons elkeen weer huis toe met vol mae en harte.
RSVP
Jou teenwoordigheid sal ons dag nóg mooier maak — bevestig asseblief hier.
-
RSVP asseblief voor of op 31 Maart, 2026
-
RSVP asseblief per persoon, insluitend elke kind
-
Jy kan RSVP vir Saterdag of vir Vrydag en Saterdag
-
Vir verblyf buite die venue, sien asseblief meer inligting